2025-05-31
Daar is baie mense wat vir my bid en
ondersteun. Na behandeling hou ek
daarvan om gou terugvoer te gee en almal op hoogte te hou. Dit keer vat dit egter ’n tydjie om my
emosies agtermekaar te sit.
Ek begin weer met die kort antwoord as iemand dal
nie kans het om alles te lees nie:
Die toetse is klaar - bloed, urine, longe,
angiogram en fisioterapeut. Ook
gesprekke met dieetkundige, sielkundige, hartoorplanting program bestuurder en
die hartoorplanter homself.
My syfers is reg vir n oorplanting en ek is op die
waglys, maar nie die dringende lys nie
n Oorplanting het BAIE newe effekte.
Dok wil kyk of ons nog n klompie myle uit die hart
kan kry.
Ek moet elke 3 maande na die kardioloog gaan sodat
ons verswakking of hopelik verbetering kan monitor.
Nou vir die lang antwoord:
Ds Clark het gister gebel en ons het lekker gesels
– blykbaar neem dit ’n mens tot 72 uur om ’n moeilike boodskap te verwerk, so
ek het nog tot 12:34 😊
So ja - baie gemengde gevoelens en nie die nuus
waarvoor gehoop is nie. Daar is nognie
’n oplossing naby nie. (nie dat ’n hartoorplanting vinnig is nie, jy kan ’n
jaar wag vir ’n hart en na die operasie is jy 3 maande uit)
Dit voel so ek is te siek om te werk, maar nognie
siek genoeg vir ’n ander hart nie. Dit is nou wag en sien…elke keer drie maande
op ’n slag…
As ek nou al voorberei sou word vir ’n
hartoorplanting is daar ‘n proses om na uit te sien – sodra ek ’n hart kry kan
die pad tot beterskap begin, maar nou is dit wag…
Ek voel nou soos wanneer jy plek hou in die ry by
die supermark, maar jou vrou is nog tussen die rakke – elke keer as jy amper
voor is laat jy die volgende persoon verbykom.
Ek het in die hospitaal 3 mense ontmoet wat
hartoorplantings gekry het – een reeds 19 jaar gelede. Ja daar is baie pille en moets en moenies,
maar hulle leef normaal en dit lyk so lekker.
Ek moet saamleef met die moeg en uithou. Dit is soos as jy die Munga trap voor
Fraserburg – dit voel of jy vir twee dae lank die Kerktoring sien sonder dat hy
nader kom 😊
Bietjie teleurgesteld dat daar nie n vinnige plan
is nie en dankbaar dat daar n plan is as ek verder verswak.
Dankbaar en Geseend dat ek met so min steeds so
baie kan doen.
Ek het die positiewe en negatiewe probeer neerpen
– maar dit het nognie getroos nie.
+ Ek voel nog redelik goed en kan myself help
+ My syfers is goed genoeg om ’n hart te kan
ontvang
+ Ek is op die oorplant waglys
- Ek bly moeg
- Ek kan nie bestuur nie
- Ek kan nie juis werk nie
So ek moet bietjie dieper delf
Na ek 80% hartfunksie verloor het (nou nie tegnies
heeltemal korrek nie, maar ek het net 20% oor gehad) was ek een oggend bietjie
mismoedig. Ek kry toe die boodskap: moenie
kyk na die 80% wat weg is nie, maar na die 20% wat oor is. Dit het nogal gehelp.
Maar toe verloor ek nog 40% van die 20% en het nou
12% hartfunksie.
Mens is nogal ingeperk as jy nie self kan bestuur
of ver stap nie.
Ek het vanoggend besluit – as ek net 12%
hartfunksie het gaan ek dit ALLES gebruik!
Ek gaan doen wat ek kan en net op die “KAN” lysie
konsentreer.
En toe kry ek ’n half uur later die versie by
Fanie Kriel:
Ps37:3
Vertrou liewer op die Here en doen wat
goed is, woon en werk rustig voort.
Hoop
In Januarie 2024 het my hartritme deurmekaar
geraak.
Ons kry toe ’n afspraak om vir ’n hartskok te gaan
– wat toe nie gebeur nie
Ek kry toe medikasie en vertrou daarop –
tevergeefs
Toe sien ons uit na die pasaangeer – ook nie
verskil nie
Daarna is ons hoop op die ablasie – maar dit help
nie
Nou hoop ons op ’n hartoorplanting – maar ons is
ook nognie daar nie…
Elke keer is daar hoop en teleurstelling…
Toe kry ek die raad by Alex Clark
Wanneer ons, ons vertroue in iemand anders
plaas, gee ons beheer prys. Om iemand anders te vertrou beteken dat ons nie
meer ten volle in beheer is nie.
Wanneer ek verklaar dat ek vir God
vertrou, dan erken ek dat ek nie beheer het nie, maar dat ek kies om vir God
beheer te gee…
Charles
Feltman definieer vertroue as: “Choosing to risk making something you value
vulnerable to another person’s action’s”.
’n Pel van my wag vir die uitslae van ’n biopsie –
ek sê altyd vir ander mense: Die wag gee
vir ons meer tyd om bid.
Nou moet ek self wag en dit is nie so maklik nie –
maar ek het die boodskap ook ’n paar keer gekry: Wag op Die Here
PSALMS 27:14 AFR53. Wag op die Here!
Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE!
Nou vir vorentoe:
Ek gaan LEWE en die lewe geniet – en vir my naaste
doen alles wat ek kan.
·
Alles moontlik word reeds vir my hart gedoen.
·
Ek gaan op die res van my liggaam ook konsentreer
·
Ek het al baie spiermassa verloor en gaan meer
proteien inneem om spiere te beskerm
·
Ek gaan baie liggies oefen om my spiere te behou
·
Ek gaan 7Kg gewig afskud (dit is bietjie moeiliker
sonder oefening maar ek sal)
·
My ystervlakke is te laag en ek gaan aanvullings
neem (en staalwop op my brood smeer)
Jesaja 41:10
Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou
vas, met My eie Hand red Ek jou.
God wil hê dat ons op Sy krag staatmaak en nie op
ons eie nie. Hy laat toe dat ons hulpbronne
so kwyn dat ons op Sy krag moet staatmaak om voort te gaan.
As jy op ‘n punt is waar daar nie medies/menslik
veel vir jou gedoen kan word nie, aanvaar makliker God se wil. Here, laat U wil geskied!
Dankie vir die mooi getuienis Cordré.
ReplyDelete